Gaan na inhoud

Chromosoom

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
’n Diagram van die gerepliseerde en verdigte chromosoom van ’n eukarioot. 1. Chromatied. 2. Sentromeer. 3. Kort arm. 4. Lang arm.

Chromosome (van die Griekse χρῶμα chrōma, "kleur" en σῶμα sōma‚ "liggaam",[1] dus letterlik "kleurliggaam") is makromolekulêre samestellings wat gene en dus ook erflike inligting bevat. Hulle bestaan uit DNS, wat saam met baie proteïene bekend as histone en verskeie ander makromolekules verpak is. Twee suster-chromatiede (halwe chromosome) is by die sentromeer aan mekaar geheg.

Hierdie DNS, proteïene en makromolekules word saam chromatien genoem, en chromatien is weer saam met ander makromolekules verpak in ’n struktuur bekend as ’n nukleosoom.

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Chromosome kom voor in die selkerns van eukariote (lewende wesens met selkerns), waartoe alle diere, plante en swamme behoort. Prokariote (lewende wesens sonder selkerns) soos bakterieë en Archaea het geen chromosome in die ware sin nie, maar een of meer meestal ringvormige DNS-molekules wat soms bakteriële chromosome genoem word.

Feitlik alle DNS van eukariote lê in die chromatien. ’n Klein deeltjie lê in die mitochondria en by plante in die chloroplaste. Hier is die DNS ook ringvormig, nes by bakteriële chromosome.

Die X-vorm waarin chromosme gewoonlik uitgebeeld word, kom net vir ’n kort rukkie tydens kerndeling (mitose) voor – in die metafase. In hierdie verdigte toestand met twee chromatiede is die chromosome sonder verkleuring met ’n ligmikroskoop sigbaar. Tussen kerndelings, in die interfase, bestaan chromosome in selkerns in ’n "ontspanne", onverdigte toestand.

Verdigting van die gedupliseerde chromosome tydens seldeling (mitose of meiose) het óf ’n struktuur met vier arms (skets regs bo) tot gevolg as die sentromeer in die middel van die chromosoom geleë is óf ’n struktuur met twee arms as die sentromeer naby een van die punte geleë is. Chromosomale herbinding tydens meiose en die daaropvolgende seksuele voortplanting speel ’n baie belangrike rol in genetiese diversiteit.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Wilhelm Gemoll: Griechisch-Deutsches Schul- und Handwörterbuch. München/Wien 1965.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]